Afval is soos ’n warm patat. Jy moenie aan hom raak nie. Jy mag nie oor hom uitvra nie. Die mense wat met hom handel dryf, wil nie vir jou sê wat hulle vir hom betaal nie. Ook nie waarvoor hulle hom verkoop nie. Hulle is so glibberig en geheimsinnig soos die afval self.
“Gaan vra mnr. Jan van Zyl van die Vleisraad. Hy is die kosteberekenaar. Die Vleisraad sal julle al die pryse gee wat julle wil hê. Praat ook sommer met mnr. W.B.A. Kotzenberg, die hoofbestuurder. Wat hý nie van afval weet nie . . .”
Só het die mense wat met boere se afval werk, ons rondgestuur nadat ons probeer vasstel het wat presies word van die afval van die duisende skape, beeste, varke en bokke wat daagliks by Suid-Afrika se slagplase geslag word. By Newtown wou ons gaan foto’s neem van die hantering van die veelbesproke produk.