
’n Vroueboer van Zimbabwe, me. Anne Cook, is as die eerste voorsitter van die nuutgestigte Tuli-beesfederasie van Suider-Afrika aangewys op ’n vergadering wat in Johannesburg gehou is.
Mnr. Dave Mullins van Kenton-on-Sea is die ondervoorsitter, me. Grace Thando van Zimbabwe die sekretaris, mnr. Volker Rugheimer van Namibië die penningmeester en me. Nyreen Roberts van Zambië die bykomende bestuurslid.
Staatsamptenare wat op die bestuur aangewys is, maar wie se aanwysing aan hul onderskeie regerings se bevestiging onderworpe is, is mnre. Joel Mamabolo (Suid-Afrika), Andrew Chamisa (Zimbabwe), Gilbert Mwango (Zambië) en Ricky Kaputjaza (Namibië). Mee. Gaolathe Thobokwe (Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) en Mary Mbole-Kariuki (AU-IBAR) is die ex officio-bestuurslede.
Die stigtingsvergadering was onder leiding van AU-IBAR (die Afrika-unie se buro vir dierehulpbronne), ’n liggaam wat hom vir die vermindering van hongersnood en armoede op die vasteland beywer, waarin dierehulpbronne ’n daadwerklike rol speel. Die belangegroepe binne AU-IBAR is lede van die Afrika-unie en streek-ekonomiese gemeenskappe op die vasteland.
Die vierdaagse byeenkoms is deur sowat 40 boere, verteenwoordigers van Tuli-genootskappe, regeringsverteenwoordigers en ander belangstellendes van Suid-Afrika, Namibië, Zimbabwe en Zambië bygewoon. Dit is voorafgegaan deur jare lange beplanning vir die totstandkoming van die federasie.
Cook en haar man, Kevin, boer die afgelope 25 jaar met die Tuli-stoetery Zimbo en tabak op die plaas Durham naby Harare.
Die Tuli is in Zimbabwe ontwikkel nadat ’n landbouvoorligter, mnr. Len Harvey, van die kenmerkende geel Sanga-tipe beeste kennis geneem het. Hul voorsate kom oorspronklik van Asië en het deur die eeue saam met die inheemse volke van Afrika suidwaarts getrek. ’n Teelprogram is in 1943 in Zimbabwe begin om bulle uit hierdie Sangas te teel om die inheemse beeste te verbeter. ’n Tuli-telersgenootskap is in 1961 gestig en sedertdien is hierdie beeste ook in onder meer Suid-Afrika, Namibië, Australië en Noord-Amerika gevestig.