
Weens die uitbreking van bek-en-klouseer in KwaHlabisa in KwaZulu-Natal sal die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling ’n inentingsveldtog in die beheergebied onderneem om die verspreiding van die siekte, wat reeds na diptenke naby die grens van dié gebied en die Hluhluwe Umfolozi-reservaat versprei het, te bekamp.
Luidens ’n verklaring deur die departement sal die inentings tot beeste binne die beheergebied beperk word om die verspreiding van die siekte te vertraag en te verhinder dat dit die reservaat bereik. Inentings sal net soos benodig toegedien word.Inentings sal eerste toegedien word in gebiede met die hoogste risiko. ’n Geraamde 40 000 beeste sal tydens die aanvanklike veldtog, wat vandeesmaand begin, ingeënt word.
KwaZulu-Natal se veeartsenydiens sal in die volgende paar weke met die betrokke gemeenskappe in verbinding tree. Die departement van landbou konsulteer tans met kundige amptenare om spesifieke dienste te lewer om boere in die beheergebied te ondersteun.
Die protokol vir beweging en die permitstelsel vir die beweging van diere met gesplete hoewe bly van krag. Belanghebbendes word versoek om aan alle beperkings op beweging gehoor te gee en sodoende die verspreiding van die siekte en die duur van die uitbreking te beperk.
Die beweging van diere met gesplete hoewe in, uit, deur of binne-in die beheergebied word slegs met die nodige permit van die veeartsenydiens toegelaat. Vee-eienaars word aangemoedig om alle aansoeke vir beweging en navrae na die provinsiale bewegingsbeheeramptenaar by fmdpermitskzn@gmail.com te stuur.
Patrollies en padblokkades sal die beweging van vee in die beheergebied beheer en monitor.
’n Uitbreking van bek-en-klouseer het ook Januarie vanjaar plaasgevind nadat dit in Mei verlede jaar ook aangemeld is. Tydens dié uitbreking is verskeie besmette diptenke in Hlabisa geïdentifiseer.