Toe mnr. Morné Fitzhenry van die plaas Hartebeeshoek naby Aberdeen in die Oos-Kaap 15 jaar gelede die plaasleisels moes oorneem, was die wegspring nie sag nie. Sy pa is oorlede toe hy in graad 9 was en hy moes op 20-jarige ouderdom sy landboustudie laat vaar om te gaan boer.
Met niks op sy naam nie en skuld weens die oordragkoste van die grond het hy nie eens geld gehad vir brandstof of om die werkers te betaal nie. Met sy oupa se hulp het hy skroot- yster bymekaar gemaak, verkoop, uiteindelik lone betaal en só sy boerdery opgebou.
Een van sy trotsste oomblikke was toe hy in 2016 op 28-jarige ouderdom sy eerste plaas gekoop het. Met die droogte wat sedert 2015 ál erger geraak en veroorsaak het dat hy jaar ná jaar moes voer, het Fitzhenry besef hy sal ’n plan moet beraam om sy speenpersentasie te verhoog.