
Ondoeltreffendheid is tans ’n groot klip in die skoen van Suid-Afrika se vee- en rooivleisbedryf. Dít en min uitvoer lei tot swak mededingendheid in die bedryf. Luidens ’n verslag van die Rooivleisbedryfsforum (RMIF) sal die aanpak van ondoeltreffendheid in die bedryf baie probleme uitsorteer.
“Sodra ondoeltreffendheid getakel word, sal die geleenthede vir uitvoer vermeerder, wat weer tot optimistiese gesindhede en die regte strukture sal lei,” lui ’n uittreksel uit die verslag van dr. Heinz Meissner, ’n navorser vir die bedryf.
Die water- en koolstofspoor per eenheid in die bedryf sal ook verlaag as die bedryf doeltreffender word.
Status van veeproduksie
Die studie is spesifiek onderneem om omvattende navorsing daar te stel oor die status en waarde van die veeproduksiesektor in die land. Meissner het bevind dat die sektor ’n bevredigende bydrae tot die land se maatskaplike ekonomiese gemeenskap lewer.
Volgens die bevindinge is veeproduksie besig om sy aandeel in die totale landbousektor te verhoog, terwyl dit nie ’n nadelige uitwerking op die omgewing of natuurlike hulpbronne het nie.
Oplossings
Van die oplossings wat voorgestel word om onder meer ondoeltreffendheid aan te pak, is ontwikkeling en oordrag van tegnologie, kommunikasie en toewyding. “As ondoeltreffendheid getakel word, sal die water- en koolstofspoor per eenheid ook verminder,” aldus Meissner.
Bedryfs- en ander organisasies wat boere steun, behoort leiding te neem om dié veranderinge te help bewerkstellig. Die skep van ’n konstruktiewe omgewing vir veeproduksiebedrywe word voor die deur van die staat gelê.
“In Suid-Afrika word dié verantwoordelikheid wél deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in sy Veebedryf- en Ontwikkelingstrategie erken, maar dié beleidsdokument is grootliks nog nie toegepas nie weens politieke voorkeure, ander regeringsprioriteite, ’n tekort aan opgeleide amptenare, poste wat nie gevul word nie, ’n gebrek aan navorsing, asook ontwikkelings- envoorligtingsbeamptes, en verskeie ander redes,” lui die verslag.
Volgens Meissner sal die drie vlakke van die land se Regeringstruktuur, veebedrywe en bedryfsorganisasies moet saamwerk om uitdagings uit te sorteer. Dít sal van die staat verg dat hy moet bewys hy is daartoe verbind.Meissner reken dit sal ook ’n gesindheidsverandering van die onderskeie veebedrywe vereis, “aangesien hulle gedwing sal word om saam te werk met persone en verantwoordelikhede waaraan hulle nie gewoond is nie”.
Dié samewerking sal ook daartoe bydra om opkomende boere in volwaardige kommersiële boere te laat ontwikkel.