
Noudat sekere droë gebiede goeie opvolgreën gekry het en die veld begin groei, wonder boere hoe om die veld te benut sodat dit kans kry om te herstel. Hulle en ekoloë is dit eens, al is die versoeking groot, moenie die hekke oopgooi en die skape die veld in jaag nie.
“Offer ’n kamp op om ander kampe ’n kans te gee om te rus,” meen mnre. Charl du Plessis van Laingsburg en Rudi Swart van die Wes-Kaapse departement van landbou.
Plante moet kans kry om te blom en saad te maak, sê mnr. Joseph Steyn van Rietfontein by Prins Albert.
“Daar moet saad op die grond kom om toekomstige weiding te verseker. Ons het al in die hart van die droogte besluit om die veld vir ’n jaar te laat rus as dit genoeg reën, wat nou blyk te wees.”
Met goeie reën en die vinnige hersteltempo van veral gras is die versoeking groot om nié by die besluit te hou nie.
Mnr. Guillau du Toit van Witfontein by Fraserburg sê sy veld reageer goed op opvolgreën, maar hy is ontsteld oor al die bosse in die vlakteveld wat dood is.
“Dis ’n lang pad na herstel. Aan die een kant wil ek nie meer voer gooi nie en dan word skaap opgedeel oral waar ’n kossie is. Die gevaar hiervan is dat die klein bietjie skape al die smaaklike plante uitvreet en onsmaaklike plante kans gee om te groei.”
Hy is terug by die ou resep van voetsole in die veld om dit te evalueer.
Du Toit sê hy gaan terug na sy weistelsel sodat die veld kans kry om te rus. “Ek maak my troppe geleidelik groter na gelang van die kos in elke kamp sodat alle veld egalig gevreet word. Dan laat rus ek soveel moontlik kampe om reserwes op te bou. Omdat leegtes nou so vinnig groei, is dit die vinnigste om reserwes te bou deur leegtes te spaar.”
Verkeerdste ding om te doen
Hy meen die verkeerdste ding om te doen is om getalle te vinnig te vermeerder. “Bewaring is noodsaaklik om veld so vinnig moontlik te laat herstel. Ons drakrag is geknou. Ons moet oor toekomstige getalle besin.”
Mnr. Hannes Gerber, navorsingsbestuurder by die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê met die lae veegetalle ná die droogte in die Noord-Kaap behoort boere weer hul gewone kampwisselstelsel te volg en probeer om ten minste ’n derde van die veld te laat rus.
Daar is nie een resep vir alle plase nie, omdat omstandighede tussen plase verskil en bestuur gedurende die droogte verskil het.
“Veld waar veegetalle vroeg in die droogte verminder is, sal vinniger op reën reageer as veld waar diere nie vroegtydig verminder is nie. Die veld het soveel rus moontlik nodig om volkome te herstel, maar dit is nie altyd moontlik vir boere om vee te onttrek ná ’n uitmergelende droogte soos ons beleef het nie.”
Boere het nie meer reserwes om voer te koop nie en vanweë beperkte besproeiingswater is aangeplante weidings skaars.