
Slagoffers van veediefstal se gesondheid en welsyn kry ’n terugslag, aangesien die meeste ouer mense is en sosiale respek ’n konstante faktor in alle kulture is.
Dit is een van die bevindinge van ’n studie oor die uitkringgevolge van veediefstal in die distrik Amathole in die Oos-Kaap.
Die studie is by die Alice-polisiekantoor uitgevoer deur mnr. Qaqambile Pasiwe van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, en mnre. Mike Earl-Taylor en Akhona Sinefu van die Universiteit van Fort Hare.
Uit die toptien polisiekantore in Suid-Afrika waar vir die tydperk 1 Julie 2021 tot 30 September 2021 die meeste veediefstal aangemeld is, is vyf in die kommunale gebiede in die Oos-Kaap: Sulenkama, Mount Frere, Qumbu, Tsolo en Mthatha.
Vee is oor die algemeen uit eienaars se krale en in die weiveld gesteel.
Korrupte polisiebeamptes
Veediewe is boonop deur korrupte polisiebeamptes bygestaan. Jong mense en ouer mense was ewe veel betrokke by veediefstal.
Mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale veeidefstalvoorkomingsforum, word dikwels beweer polisielede is betrokke by veediefstal, maar baie min word aangekeer en vervolg. “Die jongste geval is in die Ladybrand-veediefstaleenheid waar vyf lede in 2021 aangekeer is en tans verhoor word.”
Die navorsers het bevind dat misdadigers hulleself boonop nie net skuldig maak aan veediefstal nie, maar verskeie ander misdade. “Die rede hiervoor is dat diewe geen selfbeheer het wanneer hulle onder die invloed van dwelms is nie en later nie kan onthou wat hulle gedoen het nie.”
Misdadigers het voortgegaan met hul misdadige bedrywighede nadat hulle deur die howe vrygelaat is.
Onbewaakte vee en vee agter swak heinings was vir diewe ’n aansporing om te steel.
Seisoenaliteit
Seisoenaliteit is ’n bepalende faktor by veediefstal. Daar is gevind dat gevalle toeneem met inisiasieskole in Mei en September, asook tydens skoolvakansies in Junie en Desember.
In die area is daar ook gevind dat die polisie nie veediefstalgroeperinge binne die area takel nie. “Dit dui op ’n diepgaande probleem in die gemeenskap, omdat bekende misdadigers vry is om verdere misdade te pleeg.”
Goeie veediefstaleenhede
Clack sê dat goeie veediefstaleenhede gekenmerk word deur goeie bestuur deur ervare veediefstalspeurders. “Waar ons wel sukkel, is wanneer mens met geen begrip van die misdaad as bevelvoerders aangestel word.”
Clack benadruk dat die gebied waarbinne die studie uitgevoer is, nie geleë is binne die hartland van veediefstal in Suid-Afrika nie, met veediefstal in die betrokke area wat meer gematig is.
“Die hartland van veediefstal is geleë binne die munisipaliteite Alfred Nzo en Joe Gqabi.”
Volgens Clack is die studie wel insiggewend aangesien een van die navorsers, Pasiwe, ’n SAPD-lid by die veediefstaleenheid in Alice is, en dat hy kan staatmaak op ervaring om die onderhoude te voer.