Naas vrugbaarheid is ’n vleisbees se voerdoeltreffendheid die belangrikste bepaler van die winsgewendheid van ’n vleisbeesboerdery.
Die resultate van tradisionele fase C- en fase D-evaluerings van stoetbulle se gemiddelde daaglikse gewigstoename (GDT) op weiding en in voerkraaltoestande word al lank deur stoet- en kommersiële vleisbeestelers gebruik as ’n sleutelaanwyser van elke bul se inherente, of genotipiese, voeromsettingsdoeltreffendheid.
’n Nadeel van die meting van net GDT is dat dit geneig is om diere met ’n groter raam te bevoordeel, terwyl dié tipe dikwels nie is wat kommersiële vleisbeesboere in ekstensiewe toestande in Suid-Afrika wil hê nie.