
Vee met ’n Namibiese N-brandmerk, maar verwyderde oormerkers, kom die afgelope paar maande al hoe meer in veeverkope in die noordelike provinsies van Suid-Afrika voor, en die Rooivleisbedryfsforum (RMIF) het vrae hieroor.
Die forum sê dié vee word ook aangebied deur spekulante wat ondersoek word rakende moontlike bedrog met inligting oor uitvoere.
Volgens die forum is ’n ooreenkoms met Namibiese owerhede aangegaan waarvolgens vee wat na Suid-Afrika uitgevoer word, een van drie eindbestemmings moet hê. Die vee sal of direk na ’n abattoir gaan vir onmiddellike slagting, of na ’n voerkraal waar hulle later geslag sal word, of, indien die vee die regte dokumentasie het, sal hulle na veeteelplase gaan om die gehalte van kuddes te verbeter.
Hou by regulasies
Die forum het ’n ernstige versoek aan alle rolspelers betrokke gerig om te verseker alle invoere van vee binne die ooreenkoms se raamwerk geskied. Dit sluit in dat alle vee van Namibië die nodige brandmerke en merkers het, en dat alle vragmotors wat sulke vee vervoer, korrek verseël is en die regte dokumentasie byderhand sal hê.
Die vee wat die land binnekom, moet vir ’n minimum van 60 dae gevoer word voor hulle aan ’n abattoir bemark kan word. Die forum versoek ook gereelde en deeglike nagaan van invoere, en mits onreëlmatighede gevind word, die vervolging van beide kopers én verkoper.
Droogte teister Namibië
Intussen vergader Namibië se veeprodusente-forum op 7 Maart met mnr. John Mutorwa, die land se minister van landbou, water en bosbou, om die droogte in dié land en die uitwerking daarvan op veeboere te bespreek. Luidens ’n verklaring sê die forum dit lyk tans of groot getalle vee na veilings gestuur word, wat ’n impak op veilingspryse het.
Die forum sê weens die tekort aan weiding is aankope in die plaaslike mark beperk. “In die skaapproduksie areas is daar steeds verwagtinge van genoeg reën tydens Maart en April, hoewel die diere nie tans markgereed is nie wat die situasie kan vererger mits dit nie binnekort reën nie,” lui die verklaring.
Tydens die vergadering wil die forum die moontlikheid dat markkanale geopen word sodat diere wat nie mark gereed is nie, verkoop kan word, met die Minister bespreek.