Dit het gegons in dié bedryf toe dit onlangs bekend geword het dat dr. Michael Bradfield, hoof van Breedplan Suider-Afrika en aanbieder van die suksesvolle jaarlikse Aldam-veeskool, ook as Wagyu Suid-Afrika se uitvoerende hoof aangestel is. Hy sê dié organisasie se missie is om die plaaslike vleisbedryf te transformeer. Hulle wil die boer in staat stel om ’n hoëwaardeproduk te lewer sodat die verbruiker dit só geniet dat hy daarop sal aandring om elke keer sappige, smaaklike rooivleis te eet. Dit gaan vir Michael nie net oor die bevordering van Wagyu-vleis nie, maar die hele beesvleisbedryf.
Die plaaslike vleisbeesbedryf het toegelaat dat die handel vleis as ’n goedkoop kommoditeit bemark, sê hy. Lande soos Amerika en Australië met hul goeie graderingstelsels het nie in hierdie strik getrap nie. Ingevolge Suid-Afrika se klassifikasiestelsel is daar geen waarborg vir ’n uitsonderlike of selfs goeie eetervaring nie. Michael sê nog ’n rede vir sy betrokkenheid by Wagyu SA is om dié ras op ’n sterk wetenskaplike grondslag te plaas. Die hele waardeketting gaan ingesluit word en elke teler, voerkraal en abattoir sal by die Certified Wagyu Beef-program betrek word.