Veldbestuur speel ’n belangrike rol om haarwurm op die plaas te bekamp, veral tydens ’n uitbreking. Wisselweiding, waar beeste vóór die skape in ’n kamp gejaag word om die larwes op te tel, waarna die skape in die kamp gejaag word, moet sover moontlik toegepas word.
Die skape moet so kort moontlik in die kamp gelaat word, waarna die kamp vir minstens twee en ’n halwe maande moet rus, indien moontlik. ’n Haarwurm se siklus is 21 dae vandat die eiers uitbroei tot die volgende eiers gelê word.
In ideale weerstoestande sal die eiers in die veld beland en dan uitbroei. Die larwe sal op ’n grasstingel wag vir ’n gasheer om die gras te vreet, maar sal vrek indien dit nie ’n kleinveegasheer kry nie.