Die toekennings vir die jaar se beste kuddes is oorhandig aan, van links, mej. Henriëtte Labuschagne, namens die Kinko-Dormerkudde van mnr. Johan Swart (kleinvee) van die Wes-Kaap, mnr. Daan Viljoen (vleisbeeste; Gelibar-Bonsmaras, Oos-Vrystaat), dr. Japie van der Westhuizen (SA Stamboek), mnr. Jan Joubert en sy vrou, Christelle, (Rooigras-Boerperdstoetery), mnr. Joubert Fourie en sy seun AJ (melkkudde; Limpopo-melkery) en me. Chereen Boshoff (ander spesies; Bostu-Boerboele, Pretoria). Foto: Johan Norval
Die twaalfde nasionale Elite-prystoekenningsgeleentheid van Standard Bank en SA Stamboek is in Bloemfontein aangebied.
Verskeie telers is vir getroue diere-aantekening vereer.
Die geleentheid is voorafgegaan deur die gesogte nasionale Elite-bulgroeitoetsklas van Vleissentraal en SA Stamboek wat tydens Bloemskou aangebied is. Altesaam 17 bulle is in 2022 deur die onderskeie telersgenootskappe benoem, met een laat onttrekking.
Die bul Grasmunt Puma CL 19-17 van mnr. Carel Nel van die plaas Helderfontein, Brandfort, het geskiedenis gemaak deur die eerste Drakensberger te word wat dié klas in die kompetisie wen. Die naaswenners was ’n Tuli van mnr. Ben Raath van Britstown en ’n Hereford van mnr. Bertus Mong van Villiersdorp.
Die Elite-platinumtoekennings is aan die telers van twee Bonsmara- en drie Drakensberger-bulle gedoen, aan die telers van 18 vleisbees-koeie, asook aan die telers van die drie melkrasse.
Die toekenning vir 2022 se nasionale ontwikkelende stoetteler is aan mnr. Malcolm Malan, ’n Dormer-teler van Bloemfontein, toegeken. Die mentorteler van die jaar is mnr. Norton Thompson (Bonsmara) van Komga in die Oos-Kaap, wat as stoetteler nuwe veeboere aktief bystaan.

Die kampioenbul van die nasionale Elite-bulgroeitoetsklas vir 2022, Grasmunt Puma CL 19-17. Van links is dr. Japie van der Westhuizen (SA Stamboek), mnre. Willie de Jager, Martin Seyfferdt, Hans Bester (almal beoordelaars), Steven Madi (hanteerder), Carel Nel en sy vrou, Anita, mnr. Anton Vos (Vleissentraal) en me. Elmarie Prinsloo (Bloemskou). Foto: Johan Norval
Boer vooruit met ’n Landbou.com-intekening
Teken in op Landbou.com teen R149 per maand en kry toegang tot gehalte-joernalistiek, alle landboutydskrifte, Landbouweekliks-episodes, boeke en baie meer.