
Wêreldmelkdag, die geesteskind van die Verenigde Nasies se Voedsel-en-landbou-organisasie, is vir die eerste keer in 2001 gevier. Die doel daarvan is om erkenning aan melk as voedselbron te gee en die suiwelbedryf se bedrywighede uit te lig.
Volgens die Wes-Kaapse departement van landbou het die aantal melkboere in Suid-Afrika sedert Januarie 2015 tot Januarie vanjaar met 46% afgeneem, terwyl melkproduksie met 7,2% gestyg het. Die Wes-Kaap huisves 33% van die land se melkboere wat 30,6%, of 1 041 349 ton, van die land se vars melk produseer. Sowat 62% hiervan word as vars, gegeurde of langlewemelk verkoop, terwyl die res vir die vervaardiging van vla, jogurt en kaas gebruik word.
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, sê die waardetoevoeging tot suiwelprodukte speel ’n belangrike rol in werkskepping. Teen R5,50 per kg by die plaashek is die bydrae van die Wes-Kaapse suiwelbedryf op primêre produsentevlak meer as R5,73 miljard.
Die Wes-Kaapse departement van landbou vier Wêreldmelkdag vanjaar op die Outeniqua-navorsingsplaas by George, waar onder meer navorsing gedoen word om klimaatslim praktyke en produksiemetodes te ontwikkel.
“Wêreldmelkdag gee ons die perfekte geleentheid om te verkondig dat melk ’n belangrike deel van ’n gesonde, gebalanseerde dieet is, asook om ons melkboere, landbouwerkers en landboubesighede te bedank vir hul onvermoeibare werk om melk toeganklik vir verbruikers te maak.”