
Ruvasa se Maart-verslag oor veesiektes wat in dié maand by die vereniging aangemeld is, is onlangs gepubliseer.
Hy verwys na die jongste uitbrekings van bek-en-klouseer in Noordwes, die Vrystaat, Limpopo, KwaZulu-Natal en Gauteng. Met die opstel van Malan se verslag was daar volgens me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, reeds 56 uitbrekings.
Malan sê siektebekamping begin op die boer se plaas en sluit sy bure, streek en provinsie in waar almal die regte stappe moet doen om te keer dat siektes versprei. Die identifisering van elke dier in Suid-Afrika deur ’n nasionale diere-identifiseringstelsel (Lits SA) is in wording.
Almal moet let op vereistes wanneer diere buite die plaasgrens vervoer word. Indien ’n dier op ’n veiling gekoop word, moet die koper op ’n verklaring aandring dat die dier nie siek is nie.
Met sy aankoms op die plaas moet die dier 28 dae lank in kwarantyn gehou word. Volg ’n kuddebestuursprogram nougeset en werk dit gereeld in oorleg met ’n veearts by.
Malan sê al die nuutste uitbrekings van bek-en-klouseer is vanweë die onwettige verwydering van vee uit die beheerde gebiede in Limpopo.
Mnr. James Faber, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie, sê internasionale handelsvennote en verbruikers dring toenemend op ’n naspeurbaarheidstelsel in die veebedryf aan.
Die departement van landbou het reeds goeie vordering saam met die veebedryf gemaak om die Lits-stelsel te begin. ’n Toetsfase word nou in die endemiese bek-en-klouseer-gebiede uitgevoer. Dit sal egter nog lank duur voordat dit in werking tree. Intussen behoort die bedryf met ’n praktiese, vrywillige stelsel te begin.
Klik hier vir die tabel van dieresiektes wat in Maart 2022 by Ruvasa aangemeld is.