
Die nuwe uitbreking van bek-en-klouseer by Potchefstroom en voortgesette voorkoms van hierdie gevaarlike siekte in Limpopo en KwaZulu-Natal wek groot kommer.
Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), sê die vestiging van ’n siektevrye kompartement op die betrokke plaas en omliggende plase is die enigste oplossing as ’n boer ernstig oor die bestryding en voorkoming van siektes is. “Biosekerheid begin by die plaashek en heinings wat deeglik in stand gehou word. Pluimvee- en varkplase doen dit reeds suksesvol.”
Wesselsbron-siekte, soortgelyk aan slenkdalkoors, maar minder gevaarlik, het by Aberdeen in die Oos-Kaap uitgebreek.
Malan sê Wesselsbron-siekte word deur muskiete oorgedra. Lammers is die vatbaarste daarvoor en baie van hulle vrek as hulle die siekte opdoen. Die vrektes by skape en Angora-bokke beloop gewoonlik minder as 5%. Kalwers, volwasse beeste, skape en bokke oorleef die siekte, maar aborsies kan voorkom.
Geen aborsies is sover by Aberdeen aangemeld nie. Min diere is tans dragtig, volgens dr. Roland Larson, ’n veearts van Graaff-Reinet.
Die tekens dat ’n dier die siekte het, is erge maagpyn, koors, geelsug en vrekte binne 24-36 uur.
Mense kan ook aangetas word as muskiete hulle byt of as hulle diere se nageboortes hanteer en nadoodse ondersoeke doen. Die simptome by mense is baie soos dié van griep.
Inentings kan die siekte keer en is sporadies by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) verkrygbaar. Daar is egter geen spesifieke behandeling as ’n dier eers Wesselsbron-siekte opgedoen het nie, volgens dr. Johan van Rooyen, ’n veearts van Steynsburg. Boere word aangeraai om siek diere bloot goed te versorg met genoeg skaduwee, skoon water en goeie voer.
Malan sê in sy Februarie-maandverslag oor dieresiektes en -toestande wat by hom aangemeld is, daar was ’n groot toename in bosluise en siektes wat deur insekte oorgedra word. Hierdie siektes kan voorkom word deur die diere betyds in te ent. Klik hier vir 'n tabel van die siektes wat aangemeld is.