
Die verbod (wat sedert 2011 geld) is een van die redes waarom talle Suid-Afrikaanse wildboere deesdae veilings in Namibië bywoon.
Een van dié boere is mnr. Vossie Lötter, eienaar van Phala Ranch naby Thabazimbi. Hy het ’n swartwitpens-koei op ’n wildveiling by die Africa Safari Lodge naby Mariental gekoop.
Volgens Lötter het hy die veiling bygewoon om spesifiek nuwe teelmateriaal te koop en terug te neem na Suid-Afrika. “Die verbod veroorsaak dat ons nie diere met gesplete hoewe kan uitvoer nie en ons het nuwe teelmateriaal nodig.”
Hy meen dat inteling begin voorkom met swartwitpense se borsmaat wat nouer word, terwyl die horingspan groter word. Barnard se diere is gemiddeld 50 kilogram swaarder as die swartwitpense in Suid-Afrika.
Lötter meen dat die jagbedryf in Suid-Afrika begin krimp, terwyl dit in Namibië die laaste jaar met sowat 40% gegroei het. “Die wildbedryf in Namibië is baie beter gereguleer, veral wat natuurbewaring, die veeartsenydiens en die vervoer van diere betref.”
Mnr. Deon Klopper, afslaer, sê die omset van die veiling (sowat N$25,2 miljoen) is ’n teken van die gewildheid van die bedryf. “Suid-Afrika sal sy huis vinnig in orde moet kry om nie van die bus af te val nie.”
Die veiling is deur die onderneming Africa Game Bomas aangebied met die samewerking van Corporate Game Services en Namibian Live Stock Auctions.
Kyk hier na 'n video van die veiling.