
Luidens die Cape Wools-verslag is 8 348 bale aangebied nadat 4 528 bale weens die Chinese verbod op wolinvoer voor die veiling onttrek is. Altesame 80,6% van die bale wat aangebied is, is verkoop.
Die prys vir nie-RWS-wol het sedert die vorige veiling met 5,9% teruggesak tot R155,12/kg, terwyl die prys van RWS-wol met 4,9% tot R171,18/kg gedaal het.
Die dalings is ondanks die rand wat met 7,9% teenoor die Amerikaanse dollar en met 2,6% teenoor die euro verswak het. Die wolpryse het aansienlik meer gedaal in dollarwaarde. Die prys van nie-RWS-wol het in dollarwaarde met 12,77% gesak en dié van RWS-wol met 11,86%.
Luidens Cape Wools het die aanbod hoofsaaklik uit fyn langwol bestaan, met 68,8% van die Merino-aanbod wat uit volhoubaar geproduseerde wol bestaan het.
Die Australiese mark het onveranderd gebly sedert sy vorige veiling, wat op 11 Augustus plaasgevind het, en pryse is laer as op die veiling van 8 Junie.
Makelaars het voor die veilingseisoen aangekondig dat die aantal bale wol per veiling verminder sal word weens die Chinese verbod op vetwol uit Suid-Afrika wat in April aangekondig is. Die verbod is aangekondig weens die uitbrekings van bek-en-klouseer in Suid-Afrika, hoewel die bedryf in 2019 verskeie maatreëls van die wêreldorganisasie vir dieregesondheid (WOAH), voorheen die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE), ingestel het om te verseker wol is veilig vir uitvoer tydens ’n bek-en-klouseer-uitbreking. China en Suid-Afrika het oor die maatreëls onderhandel en dit goedgekeur.
China voer 70% tot 80% van Suid-Afrika se vetwol in, maar kopers het sedert April voortgegaan om wol te koop. Daar is tans ongeveer R500 miljoen se wol wat aangekoop is en in Suid-Afrika opgeberg word omdat dit nog nie uitgevoer kon word nie. Kopers verkeer reeds onder finansiële druk met opbergruimte wat ál voller word namate die verbod voortduur.
“Die volumes wol wat tans gedra word as voorraad, tesame met die groot onsekerheid rondom die opheffing van die verbod plaas baie druk op die bedryf,” skryf mnr. Isak Staats in sy jongste RWS-nuusbrief.
“Die verwagting is gevolglik dat die persentasie wol wat per veiling verkoop word, baie laer sal wees, wat aandui dat die vraag na tradisionele ‘Chinese tipes’ onder groot druk sal wees.”