
Dit volg nadat China begin April aangekondig het dat hy geen produkte van diere met gesplete hoewe uit Suid-Afrika sal aanvaar nie nadat verskeie uitbrekings van bek-en-klouseer in Suid-Afrika aangemeld is. Dit beteken dat woluitvoer na China sedert April opgeskort is. Suid-Afrika het in die vorige seisoen ongeveer 80% van sy wol na China uitgevoer. Ondanks enkele veilings wat uitgestel is, het kopers voortgegaan om om wol aan te koop, wat steeds nie na China uitgevoer kon word nie.
Verskeie vergaderings is intussen gehou waar die erns van uitwerking van die verbod op die Suid-Afrikaanse wolbedryf beklemtoon is.
Volgens Cape Wools het hy onder meer ’n video in Junie saamgestel om die prosedures te wys het wat verseker dat vetwol wat na China uitgevoer word, voldoen aan die internasionale standaarde waardeur bek-en-klouseer geïnaktiveer word. Die video is aan die Chinese doeane-owerheid, die departement van internasionale verhoudinge en samewerking, en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gestuur.
Die bedryfsorganisasie het in Julie in Pretoria met albei staatsdepartemente van landbou en internasionale verhoudinge vergader. Die moontlik katastrofiese gevolge wat die verbod op die bedryf kan hê, veral met die komende seisoen wat in Augustus begin, is beklemtoon.
Die Suid-Afrikaanse ambassade in China kon egter nie goeie vordering maak op ’n vergadering met doeane-amptenare om die erns van die verbod te bespreek nie.
Cape Wools het ook ’n vergadering met Agbiz in Pretoria belê waarna Agbiz die kwessie met die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en van handel, nywerheid en mededinging bespreek het. Die minister het dit na die kantoor van die presidensie verwys.
Die Internasionale Woltekstielorganisasie het ook ’n vergadering tussen Cape Wools en die Chinese woltekstielvereniging bemiddel waar die erns van die situasie ook bespreek is. Die Chinese afvaardiging het onderneem om die kwessie onder die aandag van die regte doeane-amptenare te bring.
Volgens Cape Wools dui kommunikasie van die Chinese ambassade in Pretoria daarop dat China geen erkenning gee vir die protokolle wat sedert 2019 gevolg word om die bek-en-klouseervirus te vernietig nie.