
Só sê mnr. Billy van Zyl, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), oor die frustrasie waarmee Suid-Afrikaanse wolboere tot Dinsdag moes sit omdat hul wol nie na hul grootste mark, China, uitgevoer kon word nie. China het Dinsdag tot groot verligting vir die wolbedryf aangedui dat vetwoluitvoer weer kan voortgaan onder die bestaande protokol. Klik hier om meer te lees.
China het in April die verbod ingestel weens die voortslepende bek-en-klouseeruitbrekings. Dit was ondanks die protokol wat in 2019 tussen China en Suid-Afrika onderhandel is nadat Suid-Afrika sy bek-en-klouseervrye status verloor het. Ingevolge die protokol moet die bedryf die nodige maatreëls tref om te verseker dit is veilig om vetwol tydens ’n bek-en-klouseeruitbreking uit te voer.
“Ons as boere is baie, baie verlig oor die opheffing van die verbod. Benewens die droogte van die afgelope ses tot sewe jaar was hierdie ’n baie moeilike tydperk om deur te gaan,” voeg Van Zyl by.
Styging
“Die opheffing van die verbod op die invoer van wol vanuit Suid-Afrika deur China het groot verligting meegebring en sterk mededinging het op die veiling geheers,” sê Cape Wools in die tweede markverslag van die seisoen.
Nie-RWS-pryse het met 6,9% toegeneem tot R165,74/kg, terwyl die RWS-pryse met 7,7% tot R184,33/kg toegeneem het. Die styging was te danke aan beter markondersteuning en ’n swakker rand. Merinowol het 53% van die aanbod uitgemaak en 94,9% van die aanbod is verkoop.
Pryse in Australië was onveranderd sedert die vorige veiling.
Cape Wools waarsku dat daar tans min vragskepe beskikbaar is en dat dit geruime tyd sal duur om die agterstand in die verskeping in te haal.
Samewerking
Van Zyl sê dit was bemoedigend om te sien hoe belangrik dit vir organisasies soos Agri SA, die staat en ’n produsente-organisasie soos die NWKV en die res van die wolbedryf was om saam te werk. Lees hier meer daaroor.
“Dit is verblydend om te sien hoe belangrik dit vir boere is om by die georganiseerde landbou betrokke te wees. Dit het weer eens gewys hoe belangrik dit vir ’n boer is dat die georganiseerde landbou die geveg veg, terwyl jy kan aangaan met jou boerdery.”
Van Zyl glo dat die video wat Cape Wools ná die besoek van mnr. Mooketsa Ramasodi, direkteur-generaal van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, aan die NWKV se nasionale kongres in Junie gemaak het, was deurslaggewend in China se besluit. In die video, wat in Mandaryns vertaal is, word die proses waardeur wol gaan voor dit uitgevoer word, asook dat al die vereiste protokolle gevolg word om te verseker dat Suid-Afrikaanse vetwol veilig is vir uitvoer, uitgewys.
Hier het die makelaars ’n belangrike rol gespeel, “wat toon hoe belangrik dit was vir almal om hande te vat”, sê Van Zyl.
Volgens Van Zyl is hy namens die kommunale boere in die Oos-Kaap baie dankbaar dat die verbod opgehef is. Dié boere is die meeste deur die verbod geraak aangesien die kommunale skeersel hoofsaaklik vir China bestem is.