
Die tegniese aspekte en maatskaplike implikasies van die situasie in die volstruisbedryf en die uitbreking van Avian Influenza wat die bedryf sedert verlede jaar teister, moet deeglik in kennis geneem word, sê dr. Pieter Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Hy het pas ’n vergadering tussen die Wes-Kaapse departement van landbou, bosbou en visserye, die Volstruisbesigheidskamer en volstruisboere gelei.
“Hierdie saak gaan nie net oor die virus en volstruise nie. Dit gaan ook oor mense – boere wat baie druk ervaar en bankrot gespeel het, of bankrot gaan raak, en werkers wat gevolglik sonder werk sit. Dis dus ’n baie komplekse saak, want die tegniese maar ook maatskaplike aspekte moet in ag geneem word,” aldus Mulder.
Volgens Mulder het pres. Jacob Zuma tydens ’n vergadering oor die situasie in De Doorns en die gewelddadige betogings uitgevra na die stand van sake in dié volstruisbedryf. ’n Uitbreking van die H5N2 Avian Influenza-virus het dié bedryf verlede jaar sy uitvoerstatus laat inboet.
Navorsing oor volhoubaarheid
Een van die uitdagings in die bedryf wat bespreek is, is die verskillende opinies wat bestaan oor die voorkoms van die virus en die redes daarvoor, asook die samestelling van die virus. “Ons het besluit dat wetenskaplikes (veeartse) die virus moet ondersoek en van dieselfde basis af moet werk.”
Die rolspelers het ooreengekom dat navorsingsmetodes gebruik moet word wat die volhoubare handel van volstruisprodukte daar sal stel.
Die registrasie van plase wat as ’n oplossing vir die herinstelling van die land se uitvoerstatus voorgestel is, maar wat weens sloerdery probleme veroorsaak, is ook bespreek. Die partye het ooreengekom dat dié stap die langtemyn volhoubaarheid van die bedryf sal ondersteun, en ondernemings is gegee dat die proses bespiedig sal word.
Volgens Mulder het die vergadering goed afgeloop, en hy sê die bedryf is positief, ondanks die uitdagings en druk.