Dit is oestyd, en ná ’n lang wag van droë pit tot saailing en uiteindelik volwasse plante, kan ons terugkyk en net die wonder beleef. Die skepping weerklink so mooi in ’n droë saadjie wat in die grond geplaas word en weer groei.
Namate die seisoen draai, die dae al hoe korter en die nagte langer word, weet ons dit is die einde van die groeiseisoen. Dit is in hierdie tyd dat jy vroegoggend met die eerste ryp die vars lug kan proe. Daar is seker niks lekkerders as die vars, yskoue lug wat ’n mens se neusgate brand nie.
In die natuur vind daar ook ’n ommekeer plaas. Dit lyk of alles net ’n effense blaaskans wil neem. Parasiete neem af, muskiete en vlieë raak weg, en die someronkruid ryp dood.