Al word bewaringsboerdery nog nie tot op die letter toegepas nie en al meen baie boere minimumbewerking is genoeg, kan die meeste boere in die Wes-Kaap die drie beginsels van bewaringsboerdery, naamlik minimumbewerking, ’n deklaag op die grond en wisselbou, afrits as jy vra.
“Bewaringsboerdery is die volhoubaarder alternatief. Dit bevorder grondgesondheid, bou koolstof in die grond en maak die stelsels net veerkragtiger om slag te bied teen omgewingstres en klimaatsverandering,” sê dr. Pieter Swanepoel, hoof van die departement landbou in die fakulteit landbouwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.
“Geenbewerking is net een deel van bewaringsboerdery. Om die hele stelsel te laat werk, moet ál drie beginsels toegepas word. As jy net geenbewerking toepas, kan jy net sowel konvensioneel boer.”