Moeder Natuur: wat ’n fantastiese ketting van wonders – wonders ver bo die menslike verstand. Wat ’n voorreg om as boer, naturalis, waarnemer en rentmeester deel van dit alles te kan wees.
Die voorreg lê daarin dat hoe meer ons in hierdie wonder delf, hoe meer besef ons ons kan net verwonderd staan en dan in alle nederigheid besef dat ons absoluut niks weet nie. As ons ons op hierdie plek bevind, verskuif ons denke van dalk niks weet na dalk iets leer.
Die natuur is só geskape dat alles in ’n onmeetbare kompleksiteit tog baie eenvoudig in balans bly. Dit maak nie saak hoe erg die mens as spesie haar versteur nie. As sy die kans gegun word, sal sy altyd self genees. Dit is hier waar rentmeesterskap inkom.