
Die eerste sprekers op Landbouweekblad se eerste Herlewingslandboukonferensie vir 2022 op Reitz in die Vrystaat het deurlopend beklemtoon dat oorskakeling na herlewingslandbou nie ’n kitsoplossing vir jare lange agteruitgang van die grond is nie. Tog kan boere moed skep omdat daar al soveel geleer is oor die jare oor hoe om opbrengste te verbeter en koste te verlaag deur herlewingslandbou toe te pas.
“As iemand elders ter wêreld iets beter doen, kan ons van hulle leer. Ons moet voortdurend soek vir nuwe inligting. Dis as jy dink jy weet alles dat jy in die moeilikheid is,” het dr. Ademir Calegari gesê. Hy is ’n Brasiliaanse dekgewasspesialis, landboukundige en ’n legende in die herlewingslandbousektor waar hy al sedert 1977 in 47 lande sukses met die integrasie van dekgewasse en vee saam met gewasse soos sojabone, sonneblomme en mielies behaal het.
Hy het gewys op die noodsaaklikheid om ’n groeiende wêreldbevolking volhoubaar aan te hou te voed. “Die wêreld se bevolking is aan die groei, maar 33% van die beskikbare grond is reeds afgetakel. Ons sal ons voedselproduksie tot 2050 met 70% moet verhoog. Dit beteken ons moet ons huidige landbou-opbrengste verdubbel om in die behoeftes te voorsien – sonder om verder by te dra tot erosie of die vernietiging van bogrond. Dit is die oplossing wat herlewingslandbou ons bied.”
Chemikalië
Calegari beskyf homself as ’n “veldman” wat nie daarvan hou om die hele dag agter ’n rekenaar se skerm te sit en data te ontleed nie. “Jy moet in die land wees, naby die grond. Dis waar jy leer. Die lewe onder die grond is net so divers soos ons mense hier bokant die grond is. Dis noodsaaklik om al die makro- en mikro-elemente na te gaan en seker maak jy voeg nie te veel chemikalieë by nie, iets wat maklik kan gebeur as jy byvoorbeeld jou grondmonster te vlak neem.”
Hy het gesê jy is geneig om jou behoefte aan chemikalieë te oorskat as die grond droog is, en te onderskat as die grond nat is. Daarom moet die grondmonsters ordentlik geneem word sonder om grondlae te vermeng.
Hy het ook daarop gewys dat die revolusie wat in die 1970’s en 1980’s in Suid-Amerika begin is om oor te skakel na geenbewerking, nou reeds 50 jaar se waardevolle lesse vir die res van die wêreld bied. Oor die jare het boere ook heelwat geleer oor die bestuur van insette soos chemikalië. “Ek is nie teen die gebruik van onkruiddoder of antibiotika nie, maar die kwessies is steeds om die grond biologies te aktiveer om opbrengste te verhoog. Hou aan soek vir volhoubare oplossings. Moenie ná ’n jaar of drie sê jy gooi tou op want dekgewasse nie werk nie. Hou aan vra en soek. Daar is soveel soorte met verskillende groeisiklusse, iewers sal ’n kombinasie wees wat jou opbrengs kan verhoog.”
Herlewingslandbou is ’n reis
Op sy beurt het mnr. Danie Slabbert, herlewingsboer van Reitz, beklemtoon dat die oorskakeling na herlewingslandbou ’n lewenslange reis is wat ’n mens se oë oopmaak vir ’n hele nuwe wêreld.
“Grond is alles: Alles wat die mensdom gebruik, kom van grond af. En alles gaan terug soontoe. Daarom moet alles wat die mens – as rentmeester van die grond – doen, ingestel wees om die grond volhoubaar te bestuur, saam met die natuur.”
Hy glo daar is ’n simbiotiese verhouding tussen mens, dier, plante en die grond wat diversiteit behou en lewe in die grond skep. “Werk op jou knieë in die grond. Dit is die essensie van boerdery en daar sal jy leer wat gebeur. Jy sal tekens sien. As jy ’n swerm hadedas sien wat op jou grond neerstryk, kan jy vies wees oor wat hulle alles vreet, of jy kan bly wees dat jou grond so vrugbaar en ryk is dat daar kos vir hulle is.”
Die krisis in Oekraïne het vir die wêreld weer gewys hoe kwesbaar is interasionale voedselstelsels en hoe kospryse die hoogte in kan skiet as insette skaars raak, het Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, gesê. “Maar miskien kry ons ’n paar antwoorde op ’n konferensie soos hierdie, waar ons leer van alternatiewe soos die tonne urine en mis van die diere wat gebruik kan word wanneer insette skaars raak. Met gesonde grond kan ons aanhou boer tot in die verre toekoms.”