Hy het in ’n onlangse artikel op die webwerf The Conversation geskryf oor sy navorsing met die 248 spesies miere (waaronder 79 spesies blaarsnyermiere) wat met swamme “boer”.
“Net soos boere is elk van dié spesies baie spesifiek oor dit waarmee hulle boer.” Die meeste van hierdie swamme stam van ’n soort af wat miere reeds 55-65 miljoen jaar gelede begin inspan het. Sommige spesies is nou reeds só ingestel dat hulle nie sonder die sorg van hul mierversorgers kan oorleef nie.
Dié verhouding is ook te sien tussen byvoorbeeld mense en aangeplante mielies. Blaarsnyermiere is geneig om monokultuurboerdery toe te pas om die tot 5 miljoen insekte wat in ’n nes kan woon, voldoende te voed. Plae besorg mierboere ook hoofbrekens.