Dekgewasse skep ook ’n gunstige omgewing vir mikrobes en aangesien dit onkruid doeltreffend kan onderdruk, kan dit as ’n alternatief vir onkruiddoders dien.
Benewens die algemeen bekende uitwerking van dekgewasse op grondtoestande in bladwisselende vrugteboorde verhoog dit ook die biomassa per hektaar. Die bykomende biomassa verhoog die fotosintetiese tempo en vermoë van ’n boord, wat lei tot ’n hoër worteluitskeiding van organiese verbindings, soos suiker, in die grond.
Die suikers voorsien ’n voedselbron aan die mikrobiese gemeenskap en dra by tot koolstofneerlegging in die boord. Dekgewasse verhoog ook die biodiversiteit van ’n andersins monokultuur-boord. Na gelang van die gewaskeuse kan sekere dekgewasse ook benut word om bykomende biomassa te produseer.