Dekgewasse is aan die begin net as ’n koste beskou. Al was dit ’n goeie manier om die grond te verbeter, is dit ’n praktyk wat nog nie wyd genoeg posgevat het nie.
Noudat die boere wat wel dekgewasse gebruik, dit beter verstaan en mengsels ontwikkel het wat beter by plaaslike omstandighede aard, begin hulle die ander voordele benut.
Dit sluit onder meer in die weidingswaarde wat dit bied, die kleiner stikstofbehoefte en hulp met onkruidbestryding. Mnr. Ivan Jansen van Rensburg, tegniese bemarker by Barenbrug in die Wes-Kaap, meen om dekgewasse te vestig net om die grond te verbeter, is ’n luukse wat min boere kan bekostig.