Die snywurms se skade was nogal sleg ná al die mooi van die vorige week se opwinding oor die makro-rooforganismes wat ons elke dag waarneem. Ek besef nou dat ons ongelukkig al so baie van ons rooforganismes uitgewis het dat dit ’n tydjie gaan duur voor alles weer in balans kom.
My wurmuitbreking was eenvoudig te groot vir die min rooforganismes. Ons moes dus die chemikaliepad stap, wat nogal hartverskeurend was.
Omdat wurms maar in jou gedagtes is, vra ’n mens so in die gesels vir ander boere: “Hoe lyk die snywurms daar by jou?” Die antwoord is in die meeste gevalle: “Hoekom vra jy? Ek weet nie. Ek het mos gespuit.” Is dit hoe ons moet redeneer? Spuit maar in elk geval?