
Benewens herlewingslandboukundiges en -boere wat hul wysheid op Landbouweekblad se Herlewingslandboukonferensie kom deel, kan konferensiegangers ook kom luister na die storie van dr. Imtiaz Sooliman.
Dié uitsonderlike hoof van die noodorganisasie Gift of the Givers sal op die Reitz-konferensie as gasspreker optree.
Dié konferensie vind vanjaar op 13 en 14 Maart op die Reitz-skouterrein plaas.
Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad, glo dat Sooliman enigeen wat na hom luister, se uitkyk op die lewe vir altyd sal verander.
“Hy het die afgelope drie dekades al honderde mense se lewe gered, internasionale krisisse help oplos en hand opgesteek om sy medemens te help,” sê Burgess.
“Ons sien daarna uit dat hy nie net boere inspireer nie, maar ook hoop bring. Sooliman glo daar wag ’n goue era op Suid-Afrika, indien haar mense kan besef die land behoort aan hulle, en nie politici nie.”
Boere kan ook uitsien na ’n propvol program met die top- Amerikaanse herlewingsboer Rick Clark wat as die hoofspreker gaan optree.
Clark is in Amerika veral bekend om sy sukses met die besnoeiing van insetkoste; ’n gevoelige onderwerp in Suid-Afrika ná die astronomiese styging in plaasinsette in 2022. Hy boer in Indiana met mielies, sojabone, koring en lusern op 2 833 ha, en lewer voerbestanddele aan die suiwelreus Danone Noord-Amerika.
Die konferensie by Reitz word in vennootskap met die Riemland-studiegroep aangebied. Clark is een van die internasionale boere wat lede van die studiegroepe die graagste daar wou hê.
“Rick is ’n boer soos ons en hy doen dit ook self, soos ons,” sê mnr. Danie Slabbert, voorsitter van die Riemland-studiegroep. “Dit is regtig iemand by wie ons iets kan leer.”
Kundiges soos Frits van Oudtshoorn, ’n graskenner, die insekkenner prof. Johnnie van den Berg, GP Schoeman van Agrisol, en die boere Cobus van Coller, Pikkie Uys, Hans van Rooyen en Hentie Helm gaan ook die konferensies toespreek.
’n Kaartjie kos R1 850 per persoon (alle etes ingesluit) en is op Quicket beskikbaar.
Dit sluit ook GRATIS toegang van 12 maande tot Landbou.com ter waarde van R1 800 in.
Die Reitz-konferensie is een van drie konferensies. Daar is ook konferensies op Somerset-Wes (9 Maart) en Ottosdal (16 Maart) wat Landbouweekblad aanbied om boere te help om saam met die natuur te werk.
Rig navrae aan events@landbou.com
Landbouweekblad se drie konferensies – Reitz, Ottosdal en Somerset-Wes – word aangebied in samewerking met die Riemland Studiegroep, die Ottosdal-geenbewerkingsklub, Sentraal24, Soil Health Support Centre, ASSET Research en die Mielietrust.