Kom ons laat gaan ons gedagtes so ’n bietjie en skets ’n prentjie van hoe die veld en grond byvoorbeeld slegs 200 jaar terug moes gelyk het. Onlangs sit ek met sonop in die veld.
In die vlei reg voor my, op ’n deel van die plaas wat nog natuurlike veld is, speel daar ’n wonder af wat moeilik beskryf kan word. Soos die son opkom, blink duisende spinnekopwebbe in die sonlig op die natgedoude grasvlakte.
Onwillekeurig wonder ek wat alles in die nag hier afgespeel het. En nou praat ons van net een groep geleedpotiges – die spinnekop. As ons in ag neem dat dit predatore is, weet ons dit vertel ’n storie van duisende lewende organismes.