Daar gaan baie vrae wees en nog meer kopkrap, en hopelik is daar van julle wat antwoorde vir van hierdie vrae sal hê.
Ek sit sommer so en droom oor wat Jan van Riebeeck op 6 April 1652 beleef het toe hy in die Kaap aan wal gegaan het. Dit laat my dink oor hoe dit moes gelyk het. Wat was die natuurbeeld rondom hom? Kom ons begin by die see, die visse, die voëls, die mossels op die rotse. Dan wonder ek of ons ooit sal weet.
Hoe het dit in die binneland gelyk? Wat was die lewe daar? Was dit in oorvloed? Hoe vrugbaar was die grond? Hoe het die eerste gewasse gegroei? Hoe was die klimaat, die reënval en die temperature? Hoe onversteurd was dit wel, en hoeveel lewe het dit onderhou? Wat was die invloed van die Khoisan se beestroppe op die grond en die veld?