“As iemand elders ter wêreld iets beter doen, kan ons van hulle leer. Ons moet voortdurend na nuwe inligting soek. Dis as jy dink jy weet alles dat jy in die moeilikheid is,” het dr. Ademir Calegari op Landbouweekblad se onlangse herlewingslandboukonferensie op Reitz in die Vrystaat gesê.
Calegari is ’n Brasiliaanse dekgewasspesialis, landboukundige en ’n legende in die herlewingsektor, waar hy al sedert 1977 in 47 lande sukses met die integrasie van dekgewasse en vee saam met gewasse soos sojabone, sonneblomme en mielies behaal het.
Hy het gewys op die noodsaaklikheid om ’n groeiende wêreldbevolking volhoubaar te bly voed. “Die wêreldbevolking groei, maar 33% van die beskikbare grond is reeds afgetakel. Ons sal ons voedselproduksie tot 2050 met 70% moet verhoog.