Die Wes-Kaap het die afgelope dertig jaar goeie vordering met bewaringsboerdery gemaak. Vogbewaring is sonder twyfel beter en die skaflike opbrengste wat in die afgelope droë jare behaal is, getuig daarvan.
Daar is meer organiese materiaal en groter mikrobe-aktiwiteit in die grond. Al is die koolstofinhoud van grond hoër en al word kunsmis doeltreffender benut, dien boere egter nog nie deur die bank minder stikstof (N) toe nie.
Dr. Nele Verhulst, ’n landboukundige in bewaringsboerderystelsels by die internasionale sentrum vir die verbetering van mielies en koring in Mexiko, skryf in die boek Food Security and Soil Quality dat verminderde bewerking en die behoud van oesreste die organiese koolstofinhoud van die bogrond verhoog.