
Kundiges sal praat oor reënval, historiese reënsiklusse en toekomstige reënverwagtinge, en die uitwerking van reën op Karooveld.
Die sprekers is dr. Loraine van den Berg van die Grootfontein-landbou-ontwikkelingsinstituut en mnre. Hannes Gerber en Christiaan Harmse van die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, grondhervorming en landelike ontwikkeling.
Hulle sal faktore wat veld vinniger laat herstel, hoe karoobossies ná droogte herstel of nie en hoe verskillend plantspesies op reën reageer, toelig. Die kundiges sal ook die invloed van die seisoen waarin die reën val, die frekwensie en hoeveelheid van reën bespreek.
Planteienskappe, soos die mededinging tussen gras en bossies, en die aard van saadbanke en oorlewing van saad, sal ook toegelig word. Op die velddag kan boere meer leer oor die beste weistrategieë ná ’n droogte en ander maniere as beweiding en rus om veld te verbeter.
Die dag word by die Genadeland-opleidingsentrum by Victoria-Wes gehou. Dit begin om 09:00. Kaartjies kos R120 per persoon en sluit lesings, ’n veldbesoek en middagete in. Hou Landbouweekblad en Landbou.com dop vir nog inligting oor hoe om te bespreek en ’n kaartjie te koop.