
Die voedselmaatskappy het in 2020 ’n Farms of the Future-plaas in Kanada gevestig en sy Farms of the Future Africa-projek in Suid-Afrika sal die tweede een wees.
Farms of the Future is deel van sy strewe om herlewingslandboupraktykte te bevorder, ten toon te stel en in werking te stel, sê McCain in ’n verklaring.
“Herlewingslandbou is daarop gerig om die hele plaas-ekostelsel te rehabiliteer deur onder meer die bevordering van grondgesondheid en doeltreffende waterbestuur.”
Op die plaas naby Lichtenburg sal 465 ha onder besproeiing wees en 90 ha droëland. McCain wil daar 125 ha per jaar met aartappels beplant.
“Deur vennootskappe met verskeie sektorkundiges sal die aandag toegespits word op die bevordering van produktiwiteit, terwyl grondgesondheid, waterdoeltreffendheid, die vermindering van landbouchemiese impakte en die vestiging en bewaring van biodiversiteit voorrang sal geniet.”
Die oes van die plaas sal in McCain-produkte gebruik word.
Mnr. Max Koeune, uitvoerende hoof van McCain, sê die Farms of the Future-projek is noodsaaklik om te probeer om die wêreldvoedselstelsel volhoubaarder te maak.
“Dit is ’n kritieke oomblik. Die stremming waaronder internasionale aanbodkettings tans is, skyn ’n skerp lig op hoe blootgestel ons is, met ’n voedselstelsel wat radikale transformasie verg om die probleme van ons eeu te bowe te kom.
“Boere is in die voorste linie. Hulle sien elke dag die uitwerking van klimaatsverandering, met ekstreme weer wat ’n verwoestende uitwerking op die groeiseisoen het. Die nuwe plaas sal ons in staat stel om ’n beter begrip van herlewingslandboupraktyke op te bou. Dit sal McCain in staat stel om saam met ons plaasvennote die manier waarop ’n aartappel gekweek word, te herbedink sodat dit beter is vir die plaas én die planeet.”
Volgens mnr. Unathi Mhlatyana, besturende direkteur van McCain Foods South Africa, het die land se posisie volgens die wêreldvoedselindeks van 2021 oor die jongste dekade verswak. “Dit wys hoe belangrik dit is dat ons na honger kyk vanuit ’n voedselstelselbenadering. Dit behels nie net die beskikbaarheid van voedsel nie, maar ook hoe toegerus ons as land is om die risiko’s van klimaatsverandering te versag en aan te hou om nou en in die toekoms voedsel te produseer.”
McCain het hom op internasionale vlak daartoe verbind om teen 2030 herlewingslandboupraktyke vir al sy aartappelaanplantings in werking te stel.