Reën voed ons grond, plante, diere, reserwes, ondergrondse water en ook vir ons. Vir iets só belangrik is dit verbasend hoe min aandag ons daaraan gee. Soms is dit nie die hoeveelheid reën wat die probleem is nie, maar eerder wat daarmee gebeur as dit eers geval het. Ander kere, soos dié seisoen, is daar net te veel.
Baie van ons het sekerlik al ’n reënsimulator gesien. Hoe kaal grond afseël en baie van die water eenvoudig afloop. Gee jy die grond ’n bietjie meer bedekking en struktuur, loop minder water af en word meer in die grond opgeneem. Ons het nie juis ’n simulator nodig om dit raak te sien nie.
Sjokoladebruin stroompies water wat in die waterbane afstroom, getuig van wat aan die gang is. Jy kan ook maar net ná ’n nat jaar na jou stootskraper-en-skroprekening kyk om te besef ’n mens kan nie só aangaan nie.