Van ’n konvensionele monokultuurboerdery tot ’n herlewingslandboupraktyk wat ’n slim kombinasie van dekgewasse en beesboerdery gebruik om die volle potensiaal van die boerdery te ontgin.
In ’n neutedop is dít die storie van mnr. Wernich Lemmer se boerdery op die plaas Lemmerville by Hartbeesfontein in Noordwes. Dis ’n tradisionele boerdery in die sin dat mielies en beesproduksie die hoofklem is, maar nuwe idees en toepassings vier hier hoogty.
Lemmer het drie jaar gelede herlewingslandboupraktyke ontdek. “Ek was by die Landbouweekblad-herlewingslandboukonferensie op Ottosdal nadat ons plaaslike boerevereniging boere genooi het. Die voordele het my dadelik opgeval.