
Die konferensie oor herlewingslandbou, wat op Donderdag 9 Maart by die Lord Charles-hotel op Somerset-Wes gehou word, begin om 08:00 en word om 14:00 met middagete afgesluit.
Kom luister hoe die hoofspreker, prof. Samson Chimphango, dosent in plantkunde aan die Universiteit van Kaapstad, en me. Hanneke Augustyn, MSc-student aan die Universiteit Stellenbosch, inderskeidelik die potensiaal van inheemse peulgewasse en stikstofbinding deur sekere peulgewasse bespreek.
Mnr. John Slabbert, ’n graanboer van Moorreesburg, sal verduidelik hoe hy met ’n skyfplanter deur ’n dik deklaag van medics werk, terwyl mnr. Gawie Steyn, rosyntjieboer van Kanoneiland, oor sy benadering van “365 dae groen, en wortels wat lewe” tot dekgewasse gaan gesels.
Die moontlikhede van veredelde inheemse peulplante klink aanloklik, maar dis ’n duur en moeisame proses. Intussen moet graanboere by saadhandelaars aanklop om die regte peulgewasse in die hande te kry.
Daar sal dus ’n paneelbespreking oor die beskikbaarheid en verskeidenheid van peulgewasse deur verteenwoordigers van Agricol en Barenbrug wees.
Aangesien herlewingslandbou dikwels beskryf word as boerdery saam met die natuur en beskou word as ’n manier om ‘n boerdery veerkragtiger te maak, het Landbouweekblad mnr. Piet Roux, ’n skaapboer van Prieska, genooi om sy ervaring met die natuur deur tye van oorvloed en droogte te beskryf.
Soos gewoonlik, nooi Landbouweekblad navorsers van die Wes-Kaapse departement van landbou en plaaslike universiteite om hul werk bekend te stel op die konferensie.
Mnr. Jaco Engelbrecht, tegniese bemarker by Agrofors, het pas sy meestersgraad in agronomie ontvang. Hy doen ’n aanbieding oor die vergelyking van dekgewasse as weiding met medic- en hawerweiding.
Dr. Johann Strauss, navorser oor volhoubare gewasstelsels, Wes-Kaapse departement van landbou, doen ’n navorsingsoorsig oor stelselstabiliteit en reënval en deel ook hy en sy span se bevindinge oor graanopbrengs, proteïen en bemesting.
Bespreek jou kaartjie by Quicket. Klik HIER vir die program.
Navrae: events@landbou.com
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.