
Daarom is dit so nodig om jouself voortdurend uit te daag met nuwe boerderymetodes soos herlewingslandbou, het mnr. Gerrit van Zyl, boer van Dewetsdorp en spreker op Landbouweekblad en die Ottosdal-geenbewerkingsklub se herlewingslandboukonferensie gesê.
“Ek dink herlewingslandbou is ’n reis sonder einde. Die laaste hoofstuk daaroor is nog nie geskryf nie. Ons is die voorlopers wat skoolgeld betaal, maar ons moet dit doen om te leer wat werk.”
Die konferensie, wat deur sowat 250 mense op Ottosdal bygewoon is, het vanjaar sterk gekonsentreer op die boereperspektief. Verskeie van die sprekers en demonstreerders van die praktyk is boere wat hulself geleer het watter metodes die beste op hul plase werk.
“Die feit dat dit boere self is wat die voortou neem om hul medeboere te leer, is baie inspirerend,” het mnr. Rick Clark, herlewingsboer van die Williamsport in die Amerikaanse deelstaat Indiana aan Landbouweekblad gesê. Hy was baie beïndruk met die toewyding van Suid-Afrikaanse boere tot herlewingslandbou wat hy op die drie konferensies in Somerset-Wes, Reitz en Ottosdal gesien het.
Clark glo dit is die vinnigste manier om by die regte resultate uit te kom as boere in groepe soos die Riemland-studiegroep of die Ottosdal-geenbewerkingsklub met mekaar kan beraadslaag oor ’n oplossing. “Dit help ook dat daar soveel boere in ’n distrik is wat verskillende oplossings kan toets en bepaal wat werk en wat nie.”
Clark se metode om sy groen materiaal net plat te rol en nie dood te spuit nie, het die verbeelding van baie kongresgangers aangegryp. “Ek het nie gedink dis moontlik om in lusern te plant en dan net plat te rol en dan ’n mielie-oes te kry nie, ek sal beslis kyk of ek dit by my kan toepas,” het mnr. Albertus Brink, ’n boer van Hoopstad wat elke jaar die herlewingslandboukonferensie op Ottosdal bywoon, aan Landbouweekblad gesê.
“Elke jaar gaan ek met nuwe idees en planne van die herlewingslandboukonferensie terug plaas toe. Want dis hier waar ek kan leer van kenners wat die pad reeds gestap het.”
Bepaal waarvoor jy kans sien
Enige besluite of veranderings het ’n impak op jou boerdery en dit is altyd ’n risiko, het mnr. Cobus van Coller, boer van Viljoenskroon wat al sedert 2016 herlewingslandbou toepas, gesê. “Bepaal vooraf waarvoor jy kans sien en watter risikofaktore jy kan aanpak en watter nie.”
Daar is faktore waaraan ’n boer niks kan doen nie, soos prysstygings van insetkoste, beurtkrag, die politiek of die pryse van hul produkte. “Maar jy kán iets doen aan grondgesondheid, erosie, vogbestuur, jou risiko deur diversiteit versprei en minder toerusting gebruik deur herlewingslandbou te beoefen. Jy kan selfs die weer se impak tot ’n mate versag.”
Hy het gesê selfs in ’n nat jaar soos vanjaar het die praktyk om dekgewasse te plant, weer sy waarde bewys. “Die materiaal in die grond het beslis gehelp om verdigting teen te werk. En toe ons daardie midsomerdroogte in Januarie kry, het die lande waarin ons al ’n paar jaar dekgewasse geplant het, baie beter vog behou.”
Dit kan vir baie boere aanvanklik duur wees om oor te skakel na herlewingslandbou, veral om die toerusting te koop, maar jy kan die pyn van die aanvanklike hoë insetkoste van oorskakeling na herlewingslandbou verminder deur die soort wisselbou wat jy toepas, het prof. James Blignaut van Asset Research gesê. Hy het navorsing gedoen oor die beste maniere waarop boere die oorskakeling na herlewingslandbou finansieel kan oorleef.
“Wisselbou maak saak en ’n ten volle geïntegreerde stelsel van vee en oeste verminder die risiko, want jy maak jou stelsel veerkragtiger.”
Die kongres het in ’n oomblik van stilte hulde gebring aan mnr. Hannes Otto, pionier-herlewingslandbouboer van Ottosdal en jare lank voorloper op die kongres wat die Geenbewerkingsklub al sedert 2017 saam met Landbouweekblad hou. Hy is verlede jaar aan kanker oorlede.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.