Danksy reën en koel weer lyk die veld by Prins Albert tans “skouspelagtig”, sê dr. Sue Dean van Renu-Karoo, ’n veldherstelmaatskappy op dié Karoodorp in die Wes-Kaap. Prins Albert het in Oktober 70 mm reën en in November 14 mm reën gekry.
Benewens die verligting ná die jare lange droogte is dit ook ’n geleentheid om te sien hoe die veld ná reën herstel. Die 75 veldpersele in die Wolwekraal-natuurreservaat van Sue en haar man, dr. Richard Dean, word gereeld gemonitor om te kyk hoe weerpatrone plantbedekking, plantsamestelling en plantvrektes beïnvloed.
Saam met hul studente en kollegas van die Suid-Afrikaanse aardwaarnemingsnetwerk (SAEON) bestudeer die Deans ook die uitwerking van grond skoonmaak, brand, beskerming teen beweiding, stikstofbemesting en die invloed van die droogte van 2015 tot 2020 op plante en diere.