Die Global Overberg Renosterveld Watch-toepassing kan veranderinge aan grondbedekking in die veldsoort monitor om die agteruitgang van renosterveld te stuit. (Gaan na glennwithtwons.users.earthengine.app/view/global-renosterveld-watch.)
Dr. Glenn Moncrieff, ’n datawetenskaplike by die Suid-Afrikaanse aardwaarnemingsnetwerk (SAEON) se fynbosnode, en die Amerikaanse wiskundige mnr. Marcel Gietzmann-Sanders het die toepassing ontwikkel deur ’n kombinasie van satellietbeelde en masjienleer te gebruik.
Satellietdata word gebruik om enige verandering aan grondbedekking op te spoor. Die toepassing ontleed elke vyf dae ’n nuwe beeld sodra dit beskikbaar word. Dit is gegrond op die Global Forest Watch-toepassing wat ontbossing in tropiese reënwoude dokumenteer.