’n Mens kan jou skaars voorstel dat in ’n land van droogtes, soos Suid-Afrika, daar ’n gebied kan wees met ’n bestendige reënval van sowat 40 duim (1 500 mm) per jaar wat landboukundig nog braak lê.
Vir boerdery oral in die land is water die beperkende faktor, maar hier waar daar volop water is, word nog feitlik nie geboer nie. Hierdie streek is langs die Tsitsikammakus, ’n golwende plato tussen berg en see. Vir so ’n eienaardige toestand moet daar darem ’n goeie rede wees.
Vir die nuweling wat sy hand aan die ploeg slaan en iets probeer saai, word dit gou duidelik: Die grond is suur en arm. Met die baie reën deur die jare is al wat plantvoedsel is, uitgeloog en weggespoel see toe.