Vir jare is gewag vir iemand om wyle oom André Lund se destydse navorsing in die vroeë 2000’s oor ultrahoëdrukbeweiding op sy plaas Elandsfontein in die Beaufort-Wes-distrik voort te sit.
Oom André se werk het algaande bewys dat die nie-selektiewe beweiding wat ultrahoëdrukbeweiding meebring, die produksie van sy brose Karooveld verbeter het, terwyl sy verhoogde drakrag ook sy somme beter laat klop het.
Hewige vertrapping en ’n hoë konsentrasie mis en urine, gevolg deur ’n lang tydperk van rus, het gelyk of dit werk. Mnr. Danie Slabbert van die plaas Van Rooyenswoning naby Reitz in die Vrystaat is een van die boere wat oom André se stelsel sedert Desember 2017 navolg.