Die departement van bosbou, visserye en die omgewing het op 25 Maart afgekondig dat die rooi-ivoor-, jakkalsbessie-, spikkelneut- en umtiza-bome nou beskermd is.
Naas Grové, president van die Dendrologiese Vereniging van Suid-Afrika, sê die mens, natuurlike vyande en klimaatsverandering speel elk ’n rol in die bedreiging van dié vier bome, maar sonder die mens se betrokkenheid sal die ander twee nie op lang termyn enige invloed hê nie.
Volgens hom was die rooi-ivoor se botaniese naam voorheen Berchemia zeyheri, maar dit is nou Phyllogeiton zeyheri. In Engels word hy red ivory genoem, in Tswana moye en in Zoeloe umnchaka.