Dankie aan Landbouweekblad en die boere van Reitz wat weer ’n geslaagde herlewingslandboukonferensie aangebied het*. Dankie ook aan almal wat dit ondersteun het – in lewende lywe óf virtueel. So ’n konferensie verg soveel beplanning, en ’n mens is bly dit word goed ondersteun.
Die tema – “Maniere om die natuur te gebruik om meer wins te maak” – is 100% van pas vir 2022. Ek kon dit net virtueel bywoon en dit is maar soos die advertensie sê: “It is not the same if you aren’t at the game.”
In dié geval was tweede beste darem beter as niks. Ek wonder al jare lank hoekom almal nie oor herlewingslandbou voel soos ek nie. Dan besef ek die klokvormige kromme (die sogenoemde bell-shaped curve) geld vir alle fasette van die lewe.