Hulle het by van die mees ekstreme omstandighede aangepas, het rolle as aasvreters, bestuiwers, saadverspreiders en insekbestryders, en is bowenal ’n barometer om verskillende habitatte te meet.
In my rubrieke skryf ek nogal baie oor voëls, en met goeie reg en rede. Ek wil stilstaan by hul waarde. Vir my as waarnemer is hulle ’n goeie aanduider van wat in die natuur gebeur. Alle voëls – van roofvoëls tot saadvreters – is van enorme waarde vir die landbou.
Hulle is ons natuurlike spesies wat landboubedrywighede tot nou toe oorleef het en tot ’n taamlike mate nog in ons landbougebiede voorkom. Die ontelbare troppe wild wat vroeër deel van die voedselketting was, is weg, maar die voëls het dit oorleef, deels omdat hulle kan vlieg.