
Dr. Chloe MaClaren, ’n gewasekoloog by Rothamsted Research in Engeland, sê die groot persele wat in die Langgewensproef gebruik word en die feit dat vee “behoorlik” by die stelsels geïntegreer word deur skape op die proewe te laat wei, en nie net hooi te maak of hul mis te gebruik nie, is nie so algemeen by langtermynproewe nie.
Sy het op die lesingsdag van die Bewaringslandbou Wes-Kaap Jack Human-bewaringslandbouweek by Stellenbosch gesê die proewe versamel boonop gereeld ’n groot verskeidenheid data oor opbrengste, insetgebruik, grondgesondheid en wins.
Die proef bestaan uit vier gewasstelsels en vier waarin diere die medics bewei.
Sy het boere aangemoedig om die inligting wat uit die proefresultate kom, te benut. “Die proewe toets plaaslike stelsels in plaaslike omstandighede en verskaf betroubare uitslae.”
Produktiewer en doeltreffender
Resultate van die Langgewensproef, wat al 25 jaar aan die gang is, wys dat koringopbrengs en die doeltreffendheid waarmee hulpbronne gebruik word, hoër in diverse stelsels is.
“Grondkoolstof en bruto marges het oor tyd in alle stelsels (in die proef) toegeneem, maar tot ’n groter mate in stelsels met ’n groter verskeidenheid.”
MaClaren het gesê ontledings soos die stabiliteit van opbrengs, watergebruiksdoeltreffendheid en die gebruik van onkruiddoder sal mettertyd bygevoeg word.
Op dieselfde konferensie het prof. Stuart Grandy van die Universiteit van New Hampshire in Amerika gesê hy was beïndruk deur die verskeidenheid boerderystelsels, “die opregte pogings om meer volhoubare oplossings vir moeilike probleme te kry” en hoe diere en dekgewasse by stelsels ingesluit word.