Toe mnr. Pietie Keeve van die plaas Katbos naby Kroonstad sowat twee jaar gelede sy kleinseuns begin touwys maak in die geheime van kompetisieploeg, kon hy, twee maal die Suid-Afrikaanse ploegkampioen, nooit droom dat hy eintlik met sy opvolgers doenig was nie!
Met die onlangse nasionale skou van die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraan-trekker-en-enjinklubs (SAVTEK) op Clocolan het die gesin Keeve ook opgedaag, oorgehaal vir 'n aangename paar dae tussen veteraan-trekkers, -enjins en
-voertuie, maar ook om te ploeg. Uiteindelik het die veteraan-plaasgereedskap waaroor die gesin so passievol is tweede viool gespeel, want een van oupa Keeve se kleinseun-leerlinge is as die Suid-Afrikaanse ploegkampioen gekroon.
Deelnemers en organiseerders is almal onkant betrap, want die wenner is onder senior ploegmanne soos mnre. Danie Joubert, Herman van Schalkwyk en Jan Joubert van die Noord-Vrystaatse Veteraneklub, en Dick Kerslake van die Hoëveld verwag, maar toe stap die vyftienjarige Johann Keeve van die Hoërskool Kroonstad (die Blouskool) met die wennerstrofee weg vir sy prestasie van 93%. Dít terwyl die seniors met die hoogste punte, mnre. Danie Joubert van Kroonstad en Dick Kerslake van Val 89% behaal het. En net om te bewys dat die Keeves kán, het Johann se dertienjarige broer, Pierre, tweede gekom in die junior afdeling met 81%.
Maar die kampioen is grootmoedig genoeg om toe te gee dat geluk ook 'n rol speel, en Oupa stem saam, want daar word geloot vir die akkertjies wat geploeg moet word, en alle akkertjies bewerk nie ewe gemaklik nie.
16 April 2009