
Slegs 5% van grond in Afrika, vergeleke met die 30% in Suid-Asië, wat vir landbouproduksie gebruik word, word besproei, het mnr. Martin Richenhagen, voorsitter van Agco, vervaardiger van onder meer Massey Ferguson gesê.
Richenhagen het tydens die bekendstelling van die kragtigste trekker nóg in Suid-Afrika gesê landbou in Afrika het aansienlike groeipotensiaal en sy maatskappy wil hom in n groter mate op die kontinent toespits. Afrika se produktiwiteit maak net 25% van die wêreld se gemiddeld uit. Geskikte grond en klimaat is wat benodig word vir suksesvolle landbou en Afrika kan dit bied, sê Richenhagen.
Groot gebiede met ’n geskikte klimaat en goeie grond word nog nie bewerk nie of is nie produktief genoeg nie. Hy reken deur meganisasie toe te pas, kan beter landbouproduktiwiteit behaal word.
Die bevolking in Afrika groei jaarliks met 2.3%, twee keer so vinnig as in ander lande. Dit beteken die vraag na kos word al hoe groter. Die aantal boere verminder ook weens verstedeliking en daarom is meganisasie 'n noodsaaklikheid, het Richenhagen gesê.
“Daar is 'n groot vraag na tegnologie wat aan die behoeftes van spesifieke gebiede, soos Afrika, voldoen. Ons produkte kan dié tegnologie voorsien,” het hy gesê. Volgens hom het Afrika ’n mark vir sowat 24 000 trekkers en het die mark sedert 2000 met sowat 14% per jaar gegroei.
Die maatskappy beplan om opleidingsgeriewe in sleutel-groeigebiede te skep sodat handelaars en boere opgelei kan word om die landboutoerusting te gebruik,” het Richenhagen gesê. “Dié opleiding sal bydra tot die Regering se landelike ontwikkelingsprogram.”
Om sy punt te steun het Agco pas die eerste Massey Ferguson 8690 trekker in Afrika vrygestel. Dié konvensionele trekker is die kragtigste van sy soort ter wêreld. Tydens die Trekker van die Jaar 2009-kompetisie is die MF 8690 as 'n “duidelike wenner” aangewys.
5 Oktober 2009