
Dié vroue is vir ander vroue ’n bewys dat hulle ook ’n belangrike bydrae tot die landbou en sy waardeketting kan lewer.
Me. Tharina Terblanche, wat die Terblanche-boerdery in 1987 gestig het, is een so ’n vrou. Hierdie landbou-onderneming in die distrikte Sasolburg en Parys in die Vrystaat, bestaan uit ’n saaiery van hoofsaaklik mielies en sojabone, ’n pluimvee- en veevertakking.
Terblanche, wat saam met vier broers grootgeword het, het vinnig geleer om haarself teen mans te laat geld. Dit het haar gehelp om ’n suksesvolle en gerespekteerde boer te word.
“Internasionale Vrouedag gee erkenning aan vroue oor die hele wêreld, met Suid-Afrika wat hierdie belangrike dag op 9 Augustus verder versterk. Vroue het gewerk, en sommige werk steeds, onder die druk daarvan om vroulik te wees. Dit is ons verantwoordelikheid om vroue hul geleenthede te laat gebruik,” sê Terblanche luidens ’n verklaring van AGCO.
Die strategiese aankoop en doeltreffende gebruik van landboumasjinerie is ’n belangrike aspek van Terblanche se bestuur van haar boerdery. Sy aanvaar dat sy dalk nie altyd weet watter masjinerie die kostedoeltreffendste vir die Terblanche-boerdery se behoeftes sal wees nie en daarom wend sy haar soms na me. Bronwyn Cilliers vir raad en ondersteuning.
Cilliers is hoofbestuurder van die
Parys-handelaarskap van die landboumasjinerie en werktuie-agentskap Valtrac.
Gedurende 2021 het sy gehelp met Terblanche se aankope van IDEAL 7- en IDEAL
8-modelle Fendt-stropers. Die Fendt-handelsmerk, wie se hoofkantoor in
Duitsland is, behoort aan AGCO.
Hoewel Cilliers op ’n melkplaas nie ver van die Terblanche-boerdery af grootgeword het, het sy aanvanklik die landbou nie as ’n beroepskeuse beskou nie. Trouens, sy het meganiese ingenieurswese studeer. Nadat Cilliers haar eie gesin begin het, het sy besluit dat sy ook in die tipies gesins- en gemeenskapsgerigte Suid-Afrikaanse landbousektor wou werk.
“Ná meer as tien jaar by Valtrac het ek nog nie een keer teruggekyk nie. Die landbou is nie ’n maklike bedryf om in te wees nie. Jy moet weet waarvan jy praat. As jy nie weet nie, vra soveel vrae moontlik tot jy ten volle verstaan wat aangaan.”
Cilliers voeg by dat vroue wat ’n loopbaan in die landbou oorweeg, nie noodwendig eers formele kwalifikasies hoef te behaal nie. Daar is baie inligting beskikbaar in boeke, aanlyn en van ander mense vir selfonderrig. “Kennis is mag” en gee mense selfvertroue en help om die respek van ander te verdien.
Terblanche se raad aan voornemende vroueboere is: “Ja, dit is moeilik. Dit was vir my ook moeilik. Nietemin, hou net aan. Al wat jy op die ou end kan doen, is om in jouself te glo en op jouself te vertrou.”